Maak eendrag mag?

MAAK EENDRAG MAG?

TER INLEIDING.

Die ou ZAR se leuse was, soos ons almal weet, Eendragt Maak Magt. Die volksvaders wat die wapen, met dié leuse  as amptelike wapen saamgestel en gekies het, was  mense, soos die geskiedenis ons leer, mense wat naby aan  hulHemelse Vader geleef het. So was dit uiteraard ook die  gevalmet die Nederduitch Hervormde Kerk, wat aanvanklik  dié kerkin die ou Transvaal was en hierdie leuse opgeneem het in die embleem  van die kerk.

Hierdie artikel het nie te doel om ‘n ontleding te doen van die redes en motiverings wat gegeld het toe bogenoemde leuses gekies is nie, maar wil ‘n kritiese evaluering van die woorde wees,soos dit vandag aangehaal en gebruik word deur volksgenote.

 “EENDRAGT MAAKT MAGT”

Hierdie leuse word binne die huidige politieke omstandighede waarin die Boerevolk homself bevind baie dikwels aangehaal. Dit word aangehaal as ‘n wekroep tot die klaaglike verdeeldheid waarin die Boervolk homself bevind.

Hierdie verdeeldheid sien ons op haas elke terrein van die volkshuishouding. Ons sien dit in ‘n veelheid van volksorganisasies wat nou verwante doelwitte nastreef. Ons sien dit in organisasies wat hulle beywer vir die vryheid van ons volk. Ons sien dit in die georganiseerde landbou organisasies en ons sien dit helaas ook in die geloofsgemeenskap.Waar dit waarskynlik die meeste aandag trek,is seker in die geledere van bewegings en organisasies wat hul beywer vir ons volk se vryheid, maar veral ook in die geloofsgemeenskap.

Laasgenoemde verdeeldheid het begin op die terrein van die gereformeerde kerkfamilie. Die eerste daarvan reeds in 1859 toe dieweë van die Nederduitch Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika uitmekaar geloop het. Daarna het die verdeeldheid tussen die pinkstergroepe en ook die Israelvisie groepe begin. Tans is daar binne elkeen van die groepe verdere onderlinge verdeeldheid en is dit vandag haas onmoontlik om uit die vuis te kan sê hoeveel “kerke” daar sou wees.

Die wekroep waarin die leuse aangehaal word en ander verbuigings daarvan ook gebruik word, weerklink in die besónder hard wanneer dae van belang soos herdenkingsdae en geleenthede waar groter getalle ‘n voor-die-hand-liggende voordeel bring, genader word.

By sulke geleenthede word hierdie wekroep dikwels met groot aandrang gebruik!  ‘n “Komaan burgers, eendrag maak mag” wil as’tware die gewete aanspreek om, en so word dit ook uitgedruk deur sprekers op vryheidsgesinde radiostasie(s) en op die sosiale media. Nou is die tyd om die kleinlike verskille ter syde te stel en saam te staan. As ons vryheid wil hê,moet ons nou saam staan!!

VERDEELDHEID

Ter wille van sinvolle bespreking moet ons net eers definieer wat ons as verdeeldheid kwalifiseer. Verdeeldheid kan tog nie alle voorbeelde van verskil van mekaar wees nie. Daarin lê tog dikwels heil! Die voorwaarde sou tog wees dat ons op die ou einde wel bymekaar uitkom met ‘n sintese uit al die verskillende tesisse wat daar was. Verdeeldheid is dus (vir die doel van hierdie bespreking) daardie gevalle waarin ‘n sintese nie bereik kan of wil word nie, maar ‘n soort permanente verskil van mening ontstaan.

Voordat ons hierdie vraag kan antwoord,moet ons eers na die oorsake van die verdeeldheid gaan kyk. Waar kom dit vandaan? Waar het dit begin en wat is die oorsaak?

Daar kan nie ‘n datum vir die ontstaan daarvan aangedui word nie, maar dat dit oor baie jare al kom,is so duidelik soos daglig. In die vroeë jare van die agtien-honderds sien ons dit in die verskillende verhale van ons trekkerouers. Hoe daar met tye selfs ernstige verdeeldheid was op die terrein van die politiek,(hoewel politiek in daardie dae min ooreenstemming met die huidige begrip toon) waar trekke van mekaar geskei het, nie omdat hulle verskillende einddoele in die oog gehad het nie, maar omdat hulle nie met mekaar klaarkom nie.

Ons sien die verdeling van die kerk in die oorgang na die tweede helfte van die agtien- honderds waar die Bybelse aandrang tot eendragtigheid; Rom. 15:6  “sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik,” nie uitgevoer is nie, maar liewer verdeel het.

Wanneer ons na die oorsaak kyk,dan kan daar seker min twyfel wees oor die enkelvoudige wortel van die kwaad, naamlik eiesinnigheid. As twee van ons oor ‘n bepaalde saak redeneer, die verstaan of die uitleg en die saak is werklik vir albei van ons die belangrik, dan mag dit maklik wees dat ons met verskillende verstaan van die saak,begin redeneer, maar na mate ons soek en krap na die waarheid, kom ons nader aan mekaar. Al sou dit op die ou einde beteken dat ons tot meer as een bepaalde betekenis kom, maar daaroor gaan ons saamstem.

Die oomblik as eiesinnigheid ter sprake kom, as my standpunt belangriker word as die saak, is verdeeldheid ons voorland!

Kom ons toets net vir ‘n oomblik hierdie standpunt op die geloofsterrein. Kan dit so wees dat al die verskillende interpretasies van die Skrif kan waar wees? Kan dit waar wees dat elkeen, gelei deur die Heilige gees (so word beweer) by verskillende waarhede of vertolkings van die Skrif kan kom as die Woord self op soveel plekke tot eenheid maan en as Christus sélf in Matt. 12 vra hoe ‘n huis wat in homself verdeel is, kan bly staan? (vers 26). Dus, as dit oor die waarhede van God se huis gaan, as dit nie gaan oor een van ons, of dalk albei wat iets anders hoër stel as die eenheid van God se huishouding nie, moet ons uiteindelik bymekaar uitkom!

TYDELIKE OF OËNSKYNLIKE EENDRAG

Deur die verloop van die geskiedenis van ons volk en op verskillende terreine daarvan, kom mense soms wél bymekaar omdat daar ‘n faktor by die argument gevoeg word wat

vantevore nie noodwendig daar was nie, maar dit is ‘n soort voorwaardelike eenheid. Hier is ‘n faktor wat my en jou wil verenig en ek is gemaklik daarmee vir solank dit nie van my vra om my diepste oortuigings te verander nie.

Kom ons kyk na ‘n enkele voorbeeld daarvan uit die kerkgeskiedenis van Suid-Afrika:Na die Eerste Vryheidsoorlog is daar so ‘n sterk band tussen die burgers wat pas die magtige weermag van die Britse koninkryk verslaan het, dat die burgers ‘n aandrang gehad het om die kerklike verdeeldheid uit die weg te ruim.

Sonder om na al die óórsake van die verdeeldheid te kyk en dat die verskillende partye hulle standpunte sou verenig, dryf die emósie van politieke eenheid hulle tot ‘n kerklike eenheid wat nooit eers ‘n volle werklikheid gekom het voordat dit wéér verkrummel nie!

Wanneer eenheid dus ter sprake is, moet dit grondig wees. Die diepste wesensake moet uitgeklaar wees anders is die eenheid van korte duur.

Hierdie waarheid sou met wetenskaplike uitleg uit die sosiale wetenskappe ook verduidelik kon word, maar dit is nie die doel van hierdie artikel nie. Die volgende punt dui vir ons die koers aan

WAT IS DAARDIE DIEPSTE, WESENSSAAK IN ONS VOLKSHUISHOUDING?

Bloot  op waarneming gegrond is die diepste waarde geloof. Let gerus op hoe mense van verskillende geloofsoortuiging sal saamwerk aan ‘n saak of byvoorbeeld sal saam dien in ‘n organisasie, maar hoe verder hulle van mekaar verskil in die uitlewing van hul geloof, word die mate van wantroue, oor die algemeen gereken, groter.

Seker die beste voorbeeld hiervan is juis op die volksakker. Omdat die bedoeling van die artikel nie is om iets of iemand te ná te kom nie, weerhou die skrywer hom van spesifieke voorbeelde, maar daar is sovéél van, dat dit vir niemand moeilik behoort te wees om aan ‘n voorbeeld of reekse voorbeelde te dink nie.

Bloot op grond van hierdie waarnemings waag die skrywer dit om te sê: hierdie volk sal eenheid nie sien, voor hulle op die geloofsakker verenig het nie!

Hierdie volk was van sy planting af, en dit is nie ‘n afleiding nie (sien die gebed van Jan van Riebeeck en die gelofte wat hy aflê twee jaar na hul voet aan wal sit), ‘n geloofsvolk! Deur die geskiedenis was dit tekens die geloofskarakter van hierdie volk wat ‘n rol gespeel het by elkeen van die wesensgeleenthede. Sy planting, die GrootTrek met as hóógtepunt,  die Gelofte. Daarna nog weer Paardekraal waar onderling voor God onderneem is om die Gelofte vir Hom uit te leef.

Geloof is dus, nou nie gegrond op afleidings nie, die diepste wesenskenmerk van hierdie volk.

HOEKOM DAN SÓVERDEELD?

In 1 Konings 12 is die verhaal van die koningshuis wat skeur na Salomo omdat hy agter die afgode aangegaan het, só lees ons in verse 22 en verder: “Maar die woord van God het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: 23 Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele huis van Juda en Benjamin en die orige deel van die volk en sê: 24 So spreek die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis; want van My het hierdie saak gekom.” (eie beklemtoning)
Die Váder verdeel dus die volk oor hulle sonde, oor hulle afdwaal!! As God die sonde van Israel só aansien dat Hy die volk op grond daarvan verdeel, waar staan ú en mývolk in óns sonde voor God ? Hoe lyk die geloofslewe van hierdie volk – versnipper!?  Hoeveel steur hierdie volk hom nog aan die aanbidding wat God self voorskryf en in hoe ‘n mate volg ons ons eie kop?

Hoe lyk dit in die handelswêreld van hierdie volk? Laat die ander volke buite rekening, hoe staan dit metóns volk? Hoe lyk die sedelike lewe? Wat gaan in die kerke aan, watter kerke voldoen nog aan die vereistes van ware kerk soos dit duidelik vanuit die Skrif na vore kom: 1. suiwere bediening van die Woord; 2. suiwere sakrament-bediening en 3. die toepassing van die tug? (Sien ook art. 29 van die NGB)

Hoe waardig voor ons Verlosser het ons in ons volkslewe (ook polities) gelewe die afgelope vyftigjaar? Veral as‘n mens boeke lees soos bv. “Die Lang generaal”deur Alan Elsdon?

Kortom: As die Vader dit nodig geag het om Israel te verdeel oor hulle sonde, hoekom nie ons nie?

Miskien antwoord u: want ons is nie Israel nie! Heeltemal tereg! Ons is nie, maar hierdie volk het homself onder ‘n gelofte geplaas wat ons gemaak het. ‘n Gelofte waarmee ons vir God belowe het dat ons vir hom ‘n volk sal wees, en dan is dít hoe ons lyk!!??

Hierdie waarheid is in die Gelofte van Bloedrivier. Daar het ons vir Hom beloof:  “…een huis tot ZynesGrootenNaamsgedachtenis te stigten alwaar het Hem sal behagen –…”(gelofte soos opgeteken deur Jan Bandjes, daar in die laer) Geen mens het al ooit ‘ngebou gestig nie, hierdie huis verwys na huishouding soos wat die Vader vir Dawid sê dat Hy vir hom ‘n huis sal stig. Hierdie feite word deur verskillende navorsers bevestig. Die skrywer self  in sy doktorale proefskrif wat u kan naslaan by: http://www.dsgideon.co.za/wp-content/uploads/2011/01/proefskrif.pdf .   (bladsy 2). Daar sal u ook verwysings van ander navorsers kry.

Hierdie volk het die Vader dus belowe dat ons vir Hom ‘n volk sal wees! As Hyself voorskryf dat Sy huishouding eensgesind sal wees, is dit voor-die-hand dat hierdie volkshuishouding wat ons vir Hom moet wees, eensgesind en eendragtig sal wees.

Op grond van hierdie Bybelse waarhede is daar geen twyfel dat hierdie verdeeldheid van u en my volk so is omdat ons so gruwelik afgedwaal het!!

BRING EENDRAG MAG?

Nee, duidelik verbreek God die mag wat mense deur hul eendrag wil bereik, as dit teen Sy wil is! So het Hy in Gen. 11 met die mense wat die toring van Babel (in hul eendrag) gebou het,gedoen. So het Hy met die twaalf stamme van Israel gedoen. So het Hy met hierdie dierbare volkie van ons gedoen wat tog so graag spog met ons vernuf, asof ons dit vanuit onssélf het!

Nee, my volksgenoot, dit is nie eendrag wat mag bring nie, maar die Vaderhand!! Hy gee mag aan wie Hy wil en Hy neem dit weg van wie en wanneer Hy wil!! Hy doen dit met of sonder eendrag!

WEKROEP

Die gepaste wekroep vir hierdie volk is dus, bepaald nié: “Eendrag maak Mag” nie, maar kom ons bekeer ons, dan sal God ons bemagtig!

Dr. Gideon Grobler
17 Oktober 2014

 

Laat 'n boodskap