Is ons hemelse Vader nie kwaad (toornig) vir ons gemeentes (kerke) nie?

WAT GAAN AAN IN ONS GELOOFSGEMEENSKAP?

Daar ‘n afgestomptheid of afgewaterdheid wat plaasgevind het in die volkslewe. Sonde is nie meer sonde nie! Dit word beskryf as: nie mooi nie, negatief of bloot die verkeerde.
Wanneer geluister word na die gesprek in die algemeen daar buite is die gevolgtrekking dat daar weinig, indien enige, oorgebly het van die feit dat die God die sonde háát. Waar is die grondige selfondersoek en die uiters noodsaaklike sondebesef wat daaruit moet spruit? As daar nie ‘n sondebesef is nie, is daar ook nie berou nie!

Waaroor moet ek berou hê as ek dan nie sonde het nie, maar nét ‘n paar dingetjies wat nou nét nie so mooi is nie in my lewe en ‘n mens bly ‘n mens jy weet! Gelowige volksgenote se denkwyse het oor die laaste, plus minus dertig jaar so verander! Daar is talle voorbeelde van sake waarin gelowiges en veral ook bedienaars van die Woord hiérdie sienswyse verandering(paradigma verskuiwing) ondergaan het.

Enkele voorbeelde:

1. Toe daar ‘n wet was wat handeldryf op Sondag verbied het, was dit met ons en ons ouers goed en geen kerkverband het gesê dat dit sogenaamd fundamentalísme was nie. Met die skrapping van die wet, het almal hul misnoeë uitgebasuin! Soos ons daaraan gewoond geraak het, het ons dit begin goedpraat en bied dieselfde mense, wat vroeër protes aangeteken het teen die verandering van die wet, vandag héftig teenstand wanneer gepredik word dat die dag van YHWH in stand gehou moet word! Géén handel en werk behalwe as dit oor die oorlewing van mens en dier gaan nie! Uiteet op dié dag het duidelik niks met oorlewing te doen nie!

2. Hoeveel van die onkuisheid van vandag (volgens die Váder se beoordeling), is die gevolg van hiérdie verskuiwing? Wat vroeë as pornografies beskou is, is vandag goeie advertensies en word in huise toegelaat op die kassie.

3. Tot watter mate het u en ek daaraan meegedoen dat die ongedissiplineerdheid in ons eie huise bydraend was tot die weerbarstigheid van ons jong volk, wat ons so graag blameer? Hoeveel onthou die herhaaldelike opdrag en waarskuwing van die Vader dat die kinders die ouers moet respekteer. Hý het geweet ongedissiplineerde kinders wat deur ‘n aanhoudende gekerm in hul ouers se ore, weet hulle gaan uiteindelik hulle sin kry, hulle moet net aanhou,  gaan ‘n weerbarstige, aan Satan gedienstige volk lewer wanneer hulle uitvind dat hulle nie die Vader kan manupileer teen Sý wil in nie.

4. Wat het in ons tyd van die kerklike tug geword? Natuurlik weet ons van die sporadiese toepassing daarvan, maar waar was die kerklike tug byvoorbeeld toe ons as ampsdraers sienderoë waargeneem het hoe ongedissiplineerd die opvoeding van ons kinders geword het? Dit is asof die tug net so dan en wan toegepas word (waar dit nog enigsinds toegepas word)sodat die kerk homself daarmee kan troos dat hy nog aan die vereistes van ware kerk voldoen!

Daar is ook ander vrae oor die verloop van dié saak. Sommige van hierdie vrae is baie sensitief en word nie graag oor gepraat nie. Die skrywer stel dit ook duidelik dat hierdie vrae nie veroordelend gevra word nie, maar beoordelend. As die afdwaal van die volk en die terugkeer van die volk ondersoek word kan tog nie selektief te werk gegaan word nie, maar moet na die geheel van die saak gekyk word.

Daar het ook sake in die algemene volkshuishouding ontstaan waaroor geloofs- en gehoorsaamheidsvrae gestel móét word. As die Woord in 1 Konings 12 verhaal van die koningshuis wat skeur na Salomo omdat Salomo agter die afgode aangegaan het, lees ons in verse 22 en verder: “Maar die woord van God het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: (23) Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele huis van Juda en Benjamin en die orige deel van die volk en sê: (24) So spreek die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis; want van My het hierdie saak gekom.” (eie beklemtoning)

Die Vader verdeel sélf Sy volk waarmee hulle soveel mag verloor omdat die Koning die weg verlaat het! Die vraag ontstaan of Hy mínder rede tot die verdeling en verlies aan mag in hiérdie volk gehad het? Hierdie volk wat teenoor die wêreld wil getuig dat hy aan die Vader behoort, maar dit nie meer is nie! Ons weet hoe die Vader hierdie valsheid beoordeel. In Openbaring skryf Hy oor die Jode,  wie se naam beteken: Lof aan YHWH, maar dit nie is nie…., as die Sinagoge van die Satan (Op. 3:9)

As die Vader hierdie volkie in sy kinderskoene red by Bloedrivier, doen Hy dit natuurlik uit genade, maar hulle het Hom in hul afhanklikheid met hart en siel aanbid en aan Hóm gehoorsaam geleef (geen sprake van volmaaktheid nie, maar van harte)! Hoewel hulle ten tye van die gebeure totaal eensgesind was in broederskap, kon dit hulle nie red nie. Dit was uit genade dat die Vader hulle gered het omdat hulle met hart en siel op Hom vertrou het.

Kort daarna ontstaan ‘n slagspreuk wat later die leuse van die ou Zuid- Afrikaanse Republiek word: Eendrag maak mag. Het die Vader dit nie as ‘n belediging beleef nie? Hy het Sy kinders nounét gered waar hulle ten spyte van totale eendrag, tog totáál onmagtig gestaan het, nou word by wyse van ‘n leuse op die landswapen gesê dat hulle in hul eendrag die mag vind en nie by die Vader nie? Kan dit nie waar wees dat Hy hierdie volkie wat hul op Hom beroem, maar ….. aan die wêreld sê dat hul mag in hul eenheid is, soos die koninkryk van Salomo verdeel het nie?

As die Voortrekker monument gebou is in nagedagtenis tot die beskermende Hand van die Vader oor die Trekkers, hoekom staan op die sinitaaf: “Ons vir jou Suid Afrika” en nie, aan die YHWH al die eer nie?

Was daar nie ‘n stelselmatige verskuiwing van vertroue, weg van die Vader en al meer tot die volk en sy eie vermoëns nie? Het die Vader ons nie as gevolg daarvan oorgegee aan ons eie (on)vermoëns om vandag uit te vind dat dít ons nêrens kan bring nie?

Wanneer ons na die kerklike terrein gaan is daar nie minder tergende vrae nie. Het die kerk die agteruitgang van sake voor sy oë, met al die mag in die Woord aan haar gegee, gebruik?

Is dit dan nie sonde dat kinders disrespekvol teenoor hulle ouers optree nie? Tree die Vader nie nou teen sy ouerhuise en ook die kerk op, omdat hulle , soos Eli, nie hulle kinders streng bestraf het toe hulle gesien het dat hulle skande oor hulle bring nie? (1 Sam.3:13)Het die kerk met die mag deur die Woord aan haar gegee betekenisvol opgetree? Hier kan bygevoeg word dat Eli, minstens tot die Vader se eer opgetree het by die aanhoor van die straf toe hy in vers 18 sê:“Hy is die HERE; laat Hom doen wat goed is in sy oë.” Is dit nie baie waarskýnlik dat vandág eerder met verontwaardiging gevra sou word: hoe God, wat ‘n God van liefde is dit kan doen nie?

Sal die Vader sienderoë toelaat dat Sy eer van Hom gestéél word in die skole waar die kinders van die gelowiges juis van Hóm moet leer nie? Kinders word wys gemaak dat die wêreld uit ‘n oerknal ontstaan het, YHWH het dit nie met die spreek van ‘n woord gemaak nie. Is hierdie argumente nie daarby ingesluit as Hy van Homself sê dat Hy ‘n jaloerse God is nie? (Eks 20:5)

Is dit nie die toorn van die Vader wat beleef word in gemeentes omdat openbare sondes soos hierbo genoem, áángaan en die opsieners wat bely het dat hulle glo Christus as die hoof van Sy kerk hulle daar gestel het, doen niks aan die sake nie?

Soveel te meer, as dit gaan omdat die persóón aangesien word en nie gehoorsaamheid aan die Vader nie?

DIE VADER WORD TOORNIG VIR GEMEENTES!

In God se Woord is die beginsel dat u en ek na mekaar moet omsien, verantwoordelikheid vir mekaar moet neem baie duidelik.

In Josua 7:1 lees ons: “Maar die kinders van Israel het hulle vergryp aan die bangoed; want Agan, …… het van die bangoed geneem, sodat die toorn van die HERE ontvlam het teen die kinders van Israel.” (eie beklemtoning) Agan steel, maar God is vir die kinders van Israel woedend! Uiteindelik sterf  “…omtrent ses en dertig man…” (vers 5) wat nie gesteel het nie, maar iémand moes Agan gesien steel het en het die saak nie aan Josua bekend gemaak nie!!

 

So sou ons ritse voorbeelde van hierdie beginsel kon uitlig. In die NT lees ons in 1Kor.11:34 lees ons “…..sodat julle nie tot ‘n oordeel saamkom nie…..” Hiér in 1 Kor. 11 waar dit oor die nagmaal gaan, sien ons weer dieselfde beginsel: daar moet toegesien word dat mense wat  in die een of ander sonde volhard, weerhou word van die nagmaal, anders word hulle en die wat geweet het en niks gedoen het nie, die oorsaak van die feit dat: tot ‘n oordeel saamgekom word!

 

Hierdie beginsel staan só sterk dat die kerkvaders hierdie tug beginsel, hierdie verantwoordelikheid neem vir mekaar, tot die derde been van die kenmerke wat moet onderskei tussen wat ware kerk is en wat net net soos kerk lyk, bepaal het! (NGB Art. 29)

 

As kinders het ons as klein seuntjies mekaar verdra tot by ‘n bepaalde punt. Dan is daar ‘n streep met die hak in die sand getrek en gesê: trap oor die streep en jy het moeilikheid!!

Die Sakramente, in hierdie geval die nagmaal kan gesien word as die streep in die sand.

Waar die kerk sienderoë deesdae al die bo-genoemde sondes toelaat en mense aan die nagmaaltafel toelaat (mense wat eiesinnig eenvoudig volhard), word die heiligheid van die sakrament aangetas en word God toornig vir die gemeente!!

 

WAT ‘N IRONIE!

Hoe ironies is dit nie! Wanneer die toorn van God op die werksaamhede van die gemeente kom en daarom gaan die sake agteruit, begin gemeentes met die mees vindingryke planne om nuwe lewe in die gemeente te kry. Herlewing word geroep!! Nou word nie terug gekeer na die Woord waarhede en weë nie, maar allerhande mense planne om mense te trek! Omdat dit mense planne is, raak die mens (wat daardeur getrek is) kort voor lank gewoon en uiteindelik verveeld met die oulike planne. Dit beteken dat daar nuwe vars planne moet kom. So gaan dit aan! Al verder weg van die Woord, maar daar gaan baie aan! Baie menslike planne!!

 

Hierdie saak herinner aan twee van die sewe gemeentes in Openbaring. Van Sardis laat die Vader Johannes opteken: Opb.3:1 “ ….. Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.” (eie beklemtoning) Dit is dood, want hoe oulik ookal vir die mens, vir God is dit dóód, want dit is nie God se werk en Woord wat in nederige gehoorsaamheid uitgevoer word nie, maar eiesinnige menseplanne!! Daarteenoor sê Hy van Filadelfia: (vers 8 van hoofstuk 3) “Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie. (eie beklemtoning) Die gemeente sien homself klein en met min krag omdat dit ‘n eenvoudige klein gemeentetjie is, maar omdat hulle by God se voorskrifte vir aanbidding bly, sê God dat Hy die hemeldeure vir hulle sal oopmaak en niemand sal dit sluit nie!!

 

KOM ONS KEER TERUG!!

Laat ons ons bekeer van hierdie verkeerde weë en in nederigheid terugkeer na hoe Hy wíl!

 

Dr. Gideon Grobler.
21 Oktober 2014

 

Maak 'n opvolg-bydrae

css.php