Hoe Christelik is “Christelike”feesdae?

 

Hoeveel Christelike feesdae is daar?

Uit die aard van die naam “Christelike feesdae” is dit duidelik dat dit net die Nuwe Testamentiese fees(te) kan wees.

Wat tans as sódanig  bekend staan, is: (in kalender-volgorde) Goeie Vrydag, Opstanding-Sondag, Hemelvaart en Pinkster. Laasgenoemde twee dae/feeste is nie publieke vakansiedae nie. Die leser kan hom/haar gerus afvra hoekom nie? As die heilsgebeure publieke vakansiedae mόét wees, geld dit dan net selektief, net vir sommige?

Waar het hierdie dae ontstaan?

Niemand kan met sekerheid sê wanneer die gebruik ingetree het nie. Daar is ‘n paar vasstaande aanduidings, maar geen vaste geleentheid of datum nie.

Op die webjoernaal van ds. Slabbert le Corné (http://proregno.com/category/kersfees/) plaas hy ‘n artikel, ‘n vertaling deur M. de Feijter van dr. A.F. Krull se proefskrif waarin dr. Krull die volgende skryf: “Dat die dae (feesdae) in die tye van die apostels, of van die apostoliese kerk, nie bekend was nie, is baie duidelik uit die kerkgeskiedenis, en dit word ook erken deur die pousgesindes.”

Hy skryf verder: “Die kerk het hierdie maagdelike reinheid nie lank bewaar nie. Mettertyd het die heidendom en die Jodedom hulle triomfe behaal op Christelike bodem. Van eersgenoemdes is die Kersfees oorgeneem, van laasgenoemdes die Paas- en Pinksterfees. Maar die apostels sélf het nooit van Christelike feesdae gespreek nie, selfs daartéén geskryf, hoewel hulle ter wille van die swakheid van die Jode die Joodse feesdae enigsins onderhou het tot tyd en wyl die dae van die skaduwees en die seremonies behoorlik begrawe sou wees”

In dieselfde artikel haal ds. le Corné vir Martin Bucer aan. (“Met erkenning geneem

en vertaal uit die Christelijke Gereformeerde Kerk van Nederland, se tydskrif ‘De

Wekker’, 88ste jg., no.9”).  Bucer (Martin Bucer, 1491-1551) skryf (in hierdie geval met spesifieke verwysing na Kersfees) “Die feit is egter dit nie die kerk is nie, maar die owerheid wat aandring op Kersfeesviering. So was dit in Straatsburg en ook in Nederland. Die owerheid het die kerke gevra om iets te doen sodat die volk hierdie dae nie in ledigheid sou deurbring nie. ”Die kerk swig voor hierdie aandrang en word só instrumenteel in juis dít wat die kerk nié wil hé nie. Toe reeds, soos vandag, word hierdie ledigheid die bron van sonde waarteen die kerk stry. Bucer skryf oor die kerklike feesdae wat in Staatsburg gevier is: “Dit is duidelik soos daglig en onweerlegbaar, dat op die feesdae, alles wat goed is, vernietig word en allerlei boosheid geplant word.”

Wat het die kerk deur die loop van tyd daarmee gemaak?

Uit bostaande is dit duidelik dat hierdie gebruike nie van die begin van die kerk af gehou is nie, maar dit onder die druk van die wêreld begin vier het.  Sporadies, op plekke waar sterk kerkleiers leiding geneem het, is dit met tye laat vaar tot die aandrang van die betrokke leiers wég was, dan het die kerk weer voortgegaan met die gebruik daarvan.

Uit al hierdie gegewens is dit duidelik dat die Ou Testamentiese feesdae nie eers ter sprake is nie, daarom dat dr. Krull skryf, soos reeds aangehaal: “hoewel hulle ter wille van die swakheid van die Jode die Joodse feesdae enigsins onderhou het tot tyd en wyl die dae van die skaduwees en die seremonies behoorlik begrawe sou wees”

Wat sê die Woord?

Ons lees nêrens in die Woord dat dit feesdae is nie! Die Heilsgebeurtenisse (geboorte, kruisiging, opstanding, hemelvaart en pinkster) word genoem, maar nêrens is daar ‘n opdrag om dit as feesdae te vier nie!

Martin Bucer skryf alreeds in sẏ tyd: “Daarby word nog ‘n beroep op die Skrif gedoen. Wanneer die hele lewe van die gemeente volgens die Bybel ingerig moet word, is dit duidelik dat feesdae moet wyk. Daar is geen woord van God wat ons oproep om feesdae te hou nie. Daarom moet ons hulle afskaf.”

In 1 Tim. 3:15 sê Paulus vir Timótheüs dat hy die gemeente só moet leer, soos

Christus voorgeskryf het: “Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom

moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar

en grondslag van die waarheid.”

Wanneer menslike willekeur toegelaat word, is dit nie nét ongehoorsaam nie, maar

bring dit ook verdeeldheid in die kerk. Oor hierdie saak het die kerk al baie gepraat

en besluite geneem. Besluite wat toe, en ook nou, eenvoudig geïgnoreer word! Op

grond van bogenoemde en ander Skrifgedeeltes bely die kerkvaders dan ook sáám

dat hierdie feesdae in strýd met die Woord van God is en verwoord dit soos volg in Art. 32 NGB: “Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en

goed om onder mekaar ‘n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die

kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat

Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie.(eie beklemtoning) En daarom

verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om

God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te

dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar

en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is

nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord

van God.

Lees Jes. 29:13  “En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle

mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle

vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is,” In die NT: Matt. 15:9  “Maar

tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”

Bogenoemde Skrifgedeeltes antwoord ook ‘n ander vraag: Kan dit dan verkeerd

wees om iets ekstra vir God te doen, al sê Hy dit nie? Matt. 15: 9 sê presies dit! Die

mense probeer goed doen, hulle probeer God vereer. Hy sê dat dit te vergeefs is,

Hy wil dit nie hê nie, want dit is my en jou eie planne, gebore uit ons eiesinnigheid,

want ons wil ons planne uitvoer en is nie gehoorsaam nie. Hiéroor het die Woord

baie sterk uitsprake: Die Woord sê eiesinnigheid is afgodery (1 Sam. 15:23).

Daar is maar een enkele feesdag vir die gelowige in die Nuwe Testament, naamlik

die eerste dag van die week!  Daardie dag waarop Christus uit die dode opgestaan

het. Daaroor kan meer by die volgende skakel gelees word:

http://www.dsgideon.co.za/watter-dag-van-die-week-is-die-dag-wanneer-sy-

gemeente-byeen-moet-kom-die-christen-saterdag-of-sondag/

Wat is die effek daarvan op die gemeenskap?

Bucer skryf: “Die radikale afwysing van hierdie feesdae hang saam met die gedagte dat ons alleen deur die geloof in Christus gered word.” En verder: “Alleen deur die geloof in Christus word ons gered, en nie deur die inagneming van allerhande uiterlike voorskrifte soos feesdae nie.” Mense sal moontlik oor hierdie opmerking van Bucer reageer dat dit nie waar is nie. Hulle hou steeds vas aan die waarheid dat die sondaar slegs deur die geloof gered word en dat hulle die feesdae in dankbaarheid eerbiedig. As dit moes waar wees, wonder ‘n mens hoekom die kerk so vol is by hierdie geleenthede, veral Goeie Vrydag en Kersfees, maar nie Sondae nie?

Paulus skryf vir Timótheüs: “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.” (2Tim.3:5) Die Skrywer wil nie veralgemeen nie, maar let op wat is besig om in ons gemeenskappe te gebeur: mense wat van mening is dat die hou van die gebooie geen belang meer het nie en sélf in hul lewens besluit wat is reg en wat is verkeerd, is nie net op hierdie feesdae in die kerk nie, maar skryf die sosiale media vol van die offer van Christus met Goeie Vrydag, en die wonder van die geboorte met Kersfees. Dit wemel behoorlik van prente met die mooiste natuurtonele wat met byskrifte die waarhede wil verkondig. Sommige gebruik sommer afbeeldings van Christus (al sê Hy dit mag nie) waarop hierdie waarhede verkondig word. Sodra die fees verby is, het ons/ek van Sy lyding vir ons/my vergeet en besluit ek wéér sélf oor my lewe! Is dit dan nie wat ‘n mens skynheiligheid noem nie?

Ons moet standpunt inneem vir Christus!

Onder stándpunt inneem vir Christus dink ons dat ons hierdie dae moet vier sodat die wêreld kan sien ons staan op vir ons Verlosser. Daar was ‘n tyd in my lewe toe ek ook daarvan oortuig was dat ‘n mens dit só moet doen, want ek het óók so groot geword. Die redenasie is dat ‘n mens selfs onbetaalde verlof sal neem, maar jy moet wys dat jy vir jou verlosser opstaan. Of, my besigheid sal gesluit wees!

Hierdie redenasie dui op ‘n bereidheid om op te offer sódat ek kan wys! Wat sê die Skrif hieroor? In 1 Sam. 15:22 staan daar: “Daarop sê Samuel: Het die HERE (YHWH) behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE (YHWH)? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.” (eie beklemtoning)

Ons offer nie meer ramme en hulle vet nie, maar dit antwoord hierdie redenasie een honderd persent! God wil ons gehoorsaamheid hê, nie ons offers nie. Ek moet die Woord gehoorsaam om op die eerste dag van die week, die énigste feesdag wat die NT ons opdra, na sy Heilige vergadering, die erediens, te gaan. Deur hiérdie feesdag deur te bring soos die Wóórd dit stel, dit is om vir God standpunt in te neem. Om my kinders uit die kloue van die God-verloënende onderwys uit te haal (omdat ek gehoorsaam wil wees) is om standpunt in te neem. Om voortdurend in diepe afhanklikheid aan my heiligmaking te werk, is om standpunt vir die Vader in te neem. Dan is dit nie ‘n gedaante van godsaligheid nie, maar ‘n nederige poging van die sondaar om gehoorsaam te wees aan die Woord en wat vir my in Rom. 12:1, ‘n wonderlike samevatting van hierdie lewensingesteldheid gee: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer  –  dit is julle redelike godsdiens.”

Dáármee neem ons ‘n standpunt vir ons Verlosser in! ‘n Standpunt wat van binne na buite werk. Dít is geloofwaardig en dít wil tot eer van ons Verlosser wees!

Samevatting

Is ‘n Christelike fees-/vakansiedag ‘n Christelike dag? Kan iets wat téén sy Wil is, aanspraak maak op Christelikheid? Dit blyk duidelik nie die geval te wees nie! Ironies: in die kerkgeskiedenis was dit die staat wat by die kerk daarop aangedring het dat die kerk iets van die dae moet maak. Nou, in ons land, is dit ‘n owerheid wat God en sy gebod loën wat hierdie dae wil wegneem en die kerk stry daarteen!

Dr. Gideon Grobler

Laat 'n boodskap