Die Joodse Sabbat (sewende dag) of die Christelike Sondag (eerste dag)

Die sewende dag

 (Sabbat) of die eerste dag (Sondag).

Tensy anders gemeld, is alle Bybel aanhalings  vanuit die 1933/1953 vertaling gedoen.

In die praktyk word dit duidelik dat daar ‘n wanpersepsie is oor die dae van die week. Gelowiges wat as Christene groot geword het, is baie dikwels onder die verkeerde verstaan dat Sondag die sewende dag is en Maandag die eerste dag. Hulle is dikwels lewenslank onder die indruk en verstaan dan dat die normale Sondag vieringe eintlik, trou aan die OT, die viering van die Sabbat is. Wanneer hulle ver gevorder in jare besef dat dit verkeerd is, neem hulle die kerk kwalik as sou die kerk hulle mislei het en daarom die eerste dag vier en nie die sewende dag soos hulle gedink het nie.  Hierdie misverstand word vererger deur die huidige tendens waar elektroniese kalenders jou die keuse gee of jou week op Sondag of Maandag begin.

Volgens die Romeinse kalender wat ons die afgelope tweeduisend jaar plus volg, is die eerste dag van die week Sondag.

Daar is ‘n verdere saak oor die dae wat uitgeklaar moet word. Wanneer die gebooie in die OT ingestel word, geskied dit in terme van die Eksodiese kalender. Dit wil sê die kalender wat gevolg was in die tyd van die uittog uit Egipte. Hierdie maande en weke het saam met die nuwe maan gewerk en het dus net 28 dae gehad. As ons dus by die OT se feesdae wil bly sal die Sabbat  saam met die maan moet verander en sal jy dus elke maand op ‘n ander dag van die week jou Sabbat moet vier.

 

Die instelling van die Sabbat

Ons lees van die instelling van die Sabbat waar die tien gebooie opgeteken is. Dit is belangrik op daarop te let dat die twee weergawes van die gebooie, twee verskillende motiverings gee vir die hou van die Sabat. In Eks.20:11 lees ons: “Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.”SoosGod dan op die sewende dag gerus het moet sy volgelinge ook rus. In Dt. 5: 15lees ons egter: “En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ‘n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.” In hiérdie weergawe se geval gaan dit dus oor die feit dat God hulle uit Egipte gelei/verlos het, dáárom moet dit gehou word.

 

Wanneer God vir Moses in Lev. 23  die feesdae gee wat hulle moet  onderhou, begin Hy ook by die Sabat en gee as motivering weer die skeppingsdae. Net daarna volg die ander feesdae, eers die Pasga op die veertiende dag van die eerste maand. Op die vyftiende dag, dus net die volgende dag begin die fees van die ongesuurde brode, sewe dae lank. Verse 7 & 8 vra in die besonder ons aandag. 7  “Op die eerste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. 8  Maar julle moet sewe dae lank aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Op die sewende dag moet daar ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.” (eie beklemtoning)

 

Hier, waar die Sabat ingestel word, word rééds aan die eerste dag van die week ‘n soortgelyke status gegee as die sewende dag. Albei  is heilige vierdae.

 

Die wortels van die Eerstedag vieringe in die OT.

In die daaropvolgende verse van Lev. 23 kom die tweede motivering soos in die Dt. weergawe van die gebooie, nl. ‘n herdenking van die verlossing uit die land van slawerny, Egipte.

 

In vers 10 lees ons:  “Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring.”

  • “As julle in die land kom wat Ek julle gee ….”
    • OT beteken dit letterlik in die land Kanaän bring hulle die eerste gerf wat hulle oes.
    • NT beteken dit dat die land waaruit hulle gelei/verlos is, die land van sonde slawerny is. Die gelowige word ingelei in die land van verlossing van die sonde. Die land van ewigelewe wat uitloop op die nuwe Jerusalem.
  • “en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. “
    • OT beteken dit weer letterlik wat daar staan,
    • NT beteken die eerstelingsgerf, die eerste korringkorrel wat in die grond geval, gesterf het, maar gegroei het(opgestaan het), die dood oorwin het, tog duidelik Christus!
  • “11  En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.” (eie beklemtoning)
    • OT vir die Jood van die OT was hierdie ‘n reël van die seremonie, maar was inderdaad  ‘n heenwysing na die NT. Op die dag ná die Sabat, dus op die éérste dag gee die eersteling gerf betekenis aan die feesvieringe!  Vir die Jood omdat God hom uit Egipte gelei het. Hiér kan hy nou die oes van die verlossing  uit Egipte beleef, maar vir die Christen gelowige omdat die Eerstelinggerf hom van die gewisse dood gered het uit die sonde na die land van die nuwe Jerusalem.
    • Reeds hier in Levitikus, kry ons dus die wortels vir die nuwe fees wat in gebruik gaan raak wanneer die profesie/heenwysing van Lev. 23 in vervulling gaan. Die Eerstelinggerf gaan op die eerste dag opstaan en die viering daarvan word nou reeds (in Lev.) voorberei.
    • Hierdie profesie gaan selfs verder. In vers 15 en 16 lees ons:  “Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring sewe volle weke moet dit wees; 16  tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan die HERE bring.”

 

Hierdie  aftelling wys reeds vooruit na die uitstorting van die Heilige Gees,

Pinkster, wat dan weer op die eerste dag van die week val.

 

 

Die Nuwe Testament se dag van die Allerhoogste.

 

Die eerste belangrike saak wat uitgeklaar moet word wanner Bybelverse uit die NT aangehaal word is:  was dit voor of na Christus se opstanding uit die dode?  Christus word binne die bedeling van die OT gebore, wanneer Hy sterf, begin die einde van die OT aanbreek. Wanneer Hy opstaan breek die NT aan en kom tot volledigheid by Pinkster, wat ook aangedui kan word as die geboorte van die NT kerk. Na hierdie plus minus drie en dertig jaar van Christus se geboorte tot en met sy sterwe, word ook verwys as die intertestamentêre tydperk.

 

Dus, wanneer na Christus se optrede verwys word vóór Sy sterwe, beteken dit dus dat die OT se seremonies en feeste nog geld. Wanneer dit ná die opstanding is, geld die NT fees.

 

Die profesie van Levitikus word waar!

 

Mat. 28: 1 sê: “En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk.”

 

Hoewel dit waarskynlik gemeensaak is,  is dit ter voorkoming van enige misverstand belangrik om seker te maak ons weet almal dat, anders as vandag waar die nuwe dag die sekonde ná middernag begin, het dit in daardie tyd met sononder begin. Dus was die sewende dag van sononder  van wat vandag bekend staan as Vrydag tot sononder  toe, wat vandag bekendstaan as Saterdag. As hier in Matthéüs dus staan: “ … laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag” dui dit duidelik daarop dat Christus nie op die sewende dag of  Sabbat opgestaan het nie, maar wel op die eerste dag of te wel Sondag!

 

Markus se woord keuse is selfs nog meer uitdruklik Mk 16: 1&2)” En toe die sabbat

verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme

speserye gekoop om Hom te gaan salf. 2  En baie vroeg op die eerste dag van die

week, net ná sonop, kom hulle by die graf.” Luk skryf dit só in 24:1: “En baie vroeg in

die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf

gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was.” Jn. skryf gewoon: (20:1)

En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker

was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. “

 

Al vier Evangelies is dus glashelder:  op die eerste dag (Sondag) het Christus

Opgestaan, soos vooruit bepaal en geskryf in Levitikus.

 

Soos bepaal,  was  die apostels op pinksterdag (eerste dag) bymekaar. Hd.

2:1 “En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig

 bymekaar. “

 

Christus laat sy gemeente (kerk) op die eerste dag van die week (Sondag) gebore

word. Sy volgelinge was toe reeds op die éérste dag bymekaar in aanbidding. Van dié

punt af vorentoe, lees ons sonder uitsondering dat, wanneer Sy volgelinge bymekaar

was om te aanbid, dit op die éérste dag van die week was:

Hd_20:7  “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe.”

1Kor._16:2  “Op elke éérste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insameling nie eers plaasvind as ek kom nie. “ (eie beklemtonings)

 

Apostels in die Sinagoges

Wat baie Christen gelowiges verwar is die feit dat dikwels in die NT gelees word dat ‘n

apostel of apostels op die Sabbatdag in die Sinagoge was. Natuurlik sou hulle daarheen

gaan, want dit is waar hulle die Jode sou kry en eintlik was dit hulle sendingveld. Hulle

het gegaan om te probeer om die Jode tot bekering in Christus te bring, – deur die

genade en nie die wet nie te leef. Presies dit lees ons in Hd. 13 : 42 & 43 “En toe die

Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die

volgende sabbat tot hulle gespreek sou word.

43  En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote

 Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in

die genade van God te bly.

 

Ewige verbond

‘n Verdere begrip wat verwarring bring is die feit dat God onder andere oor die instelling van die Sabbat sê dat dit ‘n ewige verbond is. Natuurlik is dit ewig as God sê dit is ewig, maar wát is dit wat ewig is, die verbond is ewig. So is die verbond verewig met Christus se offer van Homself!  Daarmee het Hy aan al die verskillende sake wat ewig is, vasgemaak met Sy eenmalige volkome en volmaak te Offer en was Hy aan sy eie profesie in Levitikus gehoorsaam en verwag van Sy volgelinge om dit ook te doen. Die Sabbat staan in die teken van Sy ou verbond (OT) en die eerste dag (Sondag) in die teken van sy nuwe verbond (NT)

 

Net soos die  olie lamp in Eksodus 27:21 ‘n ewige instelling was maar opgeneem is in

die nuwe verbond en daarom nie meer brandende gehou word nie, maar die waarheid

daarvan, dat God (YHWH) die ewige ligdraer is in Christus, maar op ‘n totaal ander

wyse voortgesit word, verewig is, is die sewende dag vervang deur die eerste dag. Al

die waarhede van die sewende dag is verewig in Christus en word op die eerste dag in Sy heilige vergadering, die erediens bely, geloof en aanbid. Dit duur in Hom vir ewig voort!  “ In die tent van samekoms, buitekant die voorhangsel wat voor die Getuienis is, moet Aäron en sy seuns dit regmaak om te brand van die aand tot die môre voor die aangesig van die HERE. Dit sal ‘n ewige insetting wees in hulle geslagte, van die kant van die kinders van Israel. “ (eie beklemtoning)

 

Samevatting

Die hou van die dag van die Allerhoogste is dus nie ‘n saak waaroor die mens kan oordeel nie. God het dit in die OT met groot noukeurigheid laat vasstel en beskryf. In die NT vervang  die eerste dag van die week nie nét die sewende dag nie, maar alle ander ou Testamentiese feeste en is die eerste dag van die week inderdaad die absolute enigste feesdag wat oorgebly het. Wat vandag daarbý gevoeg is, is inderdaad mensgemaak en word onder andere  in Mat. 15:9 veroordeel.

Maak 'n opvolg-bydrae

css.php